- devilliersliam
‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees (en is ‘n stappie in die rigting na studie sukses)
Om optimaal te kan leer en presteer moet leerders ‘n gesonde leefstyl handhaaf, nie net tydens toetse en eksamens nie maar elke dag. Vier belangrike aspekte wat bydra tot ‘n gesonde leefstyl is: Drink genoeg water, eet gesonde kos en gereelde etes, kry genoeg slaap en kry genoeg oefening.
Drink genoeg water

Neurone in jou brein en rugmurg maak veral gebruik van water om boodskappe aan mekaar te stuur (leer nuwe inligting, oplos van probleme, verbeterde konsentrasie ens.) Boodskappe sal nie gestuur word as daar nie genoeg water beskikbaar is nie. Dit is belangrik om voortdurend goed gehidreer te bly want dehidrasie affekteer korttermyngeheue, konsentrasie en angstigheidsvlakke negatief.
Drink minstens 1,5 – 2liter water per dag. (2 liter = 8 glase)
Eet gesonde kos

Goeie voeding gee die brein ‘n hupstoot, versterk geheue en verbeter konsentrasie.
Die volgende is belangrik rakende dieet:
· Ontbyt
Ontbyt is die belangrikste maaltyd van die dag aangesien dit jou denkprosesse opskerp.
Deur die loop van die dag kan kleiner maar meer gereelde porsies geëet word om jou brein van suurstof te voorsien.
· Volgraanprodukte en komplekse koolhidrate
Volgraankosse soos volgraanbrood, bruinrys en hawermout sorg dat energievlakke konstant bly. Tydens die verteringsproses word koolhidrate omgeskakel na suiker wat die brein se primêre bron van energie is. Die vitamiene B wat daarin voorkom sorg vir die ontwikkeling van ’n goeie senuweestelsel. Komplekse koolhidrate help dat jy beter kan oplet en konsentreer.
· Hawermout
Hawermout staan bekend as dié graansoort vir die brein. Dit bevat vitamiene B en E en kalium en sink wat help dat jou brein en liggaam goed funksioneer.
· Bessies
Bessies soos aarbeie en bloubessies bevat antioksidante en vitamiene C. Bloubessies, veral, help jou om beter te onthou.
· Suiwel
Suiwel is ‘n goeie bron van proteïene en bevat vitamiene D en B wat noodsaaklik is vir gesonde breinfunksie.
· Proteïene
Proteïenryke kos soos vleis, lewer en spinasie verskaf boublokke vir organe soos die brein en die hart.
· Groente en vrugte
Groente en vrugte is propvol vitamiene, minerale en antioksidante en help met breinfunksie en verstandelike vermoëns.
· Vis
Smul gerus aan olierige vis. Omega 3 vetsure word in olierige vis gevind en is die goeie vette wat die brein help om goed te funksioneer. ‘n Tekort daaraan kan lei tot depressie, swak geheue, lae IK, leerprobleme en aandaggebrek.
· Eiers
Eiers bevat cholien wat ‘n belangrike voedingstof vir brein- en geheueontwikkeling is. Eiers kan dus help om geheue te verbeter.
· Neute, sade en bone
Neute, sade en bone bevat vitamiene E en sink wat belangrik is vir die verbetering van geheue en denkvermoë.
Die volgende is ‘n lys van ‘n paar voedsels wat belangrik is om gereeld te eet vir goeie gesondheid:
Volgraanbrood
Avokado
Grondboontjiebotter
Bruinrys
Tamatie
Grondbone
Hawermout
Broccoli
Okkerneute
Salm
Spinasie
Amandels
Sardyne
Groenbone
Pampoensade
Forel
Aarbeie
Gedroogte vrugte
Tuna
Kersies
Lewer
Makriel
Bloubessies
Vleis
Ansjovis
Kaas
Pluimvee
Eiers
Yogurt
Melk (ook gegeurde melkies)
Donker sjokolade
Kry genoeg slaap

Terwyl jy slaap is jou brein besiger as ooit. Gesonde slaappatrone is die sleutel tot ‘n gesonde en goed funksionerende brein.
‘n Tekort aan slaap het ‘n skrikwekkende negatiewe effek op die brein, waarvan knorrigheid, prikkelbaarheid, ontstuimige emosies, vergeetagtigheid, die onvermoë om te konsentreer en ‘n aangetaste geheue maar enkele voorbeelde is.
Slaap is absoluut noodsaaklik vir leer.
Gedurende die dag neem jou brein ‘n klomp inligting in en terwyl jy slaap analiseer die brein hierdie inligting en stoor die inligting in die langtermyngeheue.
‘n Paar “tips” ten opsigte van slaap:
o Die kamer moet redelik stil en donker wees. Daar moet verkieslik nie ‘n TV in die kamer wees nie.
o Raak aan die slaap in jou eie bed. Moenie voor die TV op die bank aan die slaap raak en dan moet opstaan om in jou eie bed verder te gaan slaap nie.
o Moet ten minste 2 ure voor slaaptyd niks eet nie.
o Vermy kafeïendrankies voor slaaptyd.
o Jou bed moet geassosieer word met slaap so moenie op jou bed sit en leer of eet nie. Bed = slaap
o Moenie huiswerk doen, leer, TV kyk of op jou foon speel/kyk binne 1 uur voor jy gaan slaap nie.
o Hou by ‘n roetine – gaan slaap elke aand om en by dieselfde tyd.
Kry genoeg oefening

Gereelde oefening is belangrik want dit kan jou brein, verstand en lewenstyl bevoordeel.
Gereelde oefening sorg vir:
o Fiksheid
o Verbeterde breinfunksie en geheue
o Sterk immuniteit
o Gewigsverlies
o Verhoogde energievlakke
o Gesonde vel
o Beter slaapaktiwiteit
Enige vorm van oefening, byvoorbeeld ‘n vinnige stappie om die blok of touspring vir ‘n paar minute is beter as niks.
Hierdie vier belangrike aspekte vorm die basis van goeie prestasie en moet na gestreef word op ‘n daaglikse basis. Beslis vier stappies in die regte rigting na studie sukses.